Die Suid-Afrikaanse wynbedryf vier op Dinsdag, 2 Februarie 2016 ‘n besonderse geleentheid. Op dié dag herdenk die bedryf die eerste wynoes op Suid Afrikaanse bodem wat op 2 Februarie 1659 deur Jan van Riebeeck in sy dagboek opgeteken is.

Die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid vind plaas op Groot Constantia Landgoed, Suid Afrika se oudste wynlandgoed. In 1685 is Groot Contantia deur die destydse Kaapse Goewerneur Simon van der Stel gestig.

Tydens hierdie geleentheid word ‘n spesiale 1659-erepenning aan ‘n Suid-Afrikaanse wynikoon toegeken. Hierdie toekenning word sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Norma Ratcliff, verlede jaar se ontvanger van die gesogte erepenning, is die eerste vrou wat met hierdie ekslusiewe toekenning vereer is.

Hierdie formele geleentheid, wat voorheen deur KWV aangebied is word sedert 2012 by Groot Constantia aangebied. Die geleentheid het drie oogmerke naamlik om ‘n individu te vereer; die Seën op die oes te vra en om die geskiedenis van die wynbedryf te gedenk. Die groot hoeveelheid verteenwoordigers uit die wynbedryf en de breë publiek wat die aand bywoon, maak dit ‘n gesellige byeenkoms op die pragtige landgoed wat ‘n gevoel van samehorigheid skep. Die aand is moontlik gemaak deur die finansiële bydraes en venootskappe van Groot Constantia Landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en Agri-Expo.

Die seremoniemeester vir die aand is die sjarmante Pieter Cronjé. Die program word opgehelder met die meesterlike musiek van die Hungarian Trio en die welbekende veelkleurige Libertaskoor gaan verdere luister aan die aand verleen.

Tafels van agt of tien mense is beskikbaar teen R750 per persoon. ‘n Watertand drie-gang maaltyd deur Simon’s Restaurant op Groot Constantia word bedien en uitgesoekte wyne van die landgoed word saam met die maaltyd bedien. Die kleredrag is ‘n streng aandpak spog-geleentheid wat ‘n hoogtepunt op die Suid Afrikaanse wynkalender is.  Kontak gerus vir Razelle Segers by 021-9754440 of Razelle@agriexpo.co.za om u bespreking te maak.