Die SA Poskantoor het op 6 Oktober 2017 ‘n stel van vyf internasionale seëls en ‘n gedenkkoevert bekend gestel om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te herdenk.

Die seëls is deur Rachel-Mari Ackermann van die SA Poskantoor ontwerp.

Die seëls kos R45,75 vir ‘n stel van vyf en ‘n gedenkkoevert kos R48,75. Die seëls is by groot poskantore beskikbaar en kan by SA.Stamps@postoffice.co.za bestel word.

Groot Constantia is die oudste wynplaas in Suid-Afrika en dis dus vanpas dat Duke of Northumberland 1791 en Grand Constance 1821 wyne – wat albei op Groot Constantia geproduseer word – op een van die seëls pryk.

Wine Making in SA

Simon van der Stel is in 1712 oorlede, en sy plaas Constantia is verdeel en opgeveil. Dit was in die besit van verskeie eienaars tot in 1778, toe Hendrick Cloete dit gekoop het – die plaas het in sy familie gebly tot met 1885. Hulle het die plaas Groot Constantia genoem en hul wyn het wêreldbekend geword.

Was dit nie vir Dr Abraham Perold nie, het Suid-Afrika nooit Pinotage gebottel nie. Dr Perold was ‘n wetenskaplike aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy ‘n wyndruif wou kweek wat so lekker soos Pinot Noir smaak, maar so sterk soos Cinsaut groei en sterk genoeg was om aan die Kaap te oorleef.

Die eerste Pinotage wat kommersieel gebottel is, was 1959 Lanzerac Pinotage, en ‘n bottel daarvan pryk op die tweede seël.

Die Weskaap se wynlande is ‘n voorste trekpleister vir toeriste danksy hulle natuurskoon, restaurante van internasionale standaard en natuurlik eersteklas wyn. Die eerste wynroete, die Stellenbosch-wynroete, is in 1971 bekend gestel. Vandag is 17 wynroetes by die Suid-Afrikaanse Wynroeteforum geregistreer en die wynlande verskyn op die derde seël.

Wine Making in SA

Baie wynmakers verkies dat druiwe met die hand gepluk word, eerder as dat dit met masjiene geoes word. Dit verminder skade. Druiwe word in Suid-Afrika tussen Februarie en Maart geoes. Die vierde seël toon mense wat druiwe op die plaas Babylonstoren met die hand pluk.

Wynvate word algemeen gebruik om wyn te maak, te berg, te belê of te vervoer. Die meeste vate is in die verlede van eikehout gemaak, maar ander materiaal soos aluminium, vlekvrye staal en plastiek is deesdae gewild. Tradisionele houtvate word op die laaste seël getoon.

Wyn word ook in KwaZulu-Natal, die Noordkaap, Ooskaap en Limpopo geproduseer – ‘n totaal van sowat ‘n miljoen liter per jaar in Suid-Afrika.

Die Wyn van Oorsprong-wetgewing (WO) het in 1973 van krag geword, en die Wyne van Suid-Afrika-wetgewing in 2000. Dit identifiseer, beskerm en bevorder Suid-Afrikaanse wyne. The WO-seël sertifiseer dat druiwe en wyn 100% in die betrokke streek geproduseer en gebottel is.