‘n Uiters skaars 195 jaar oue Grand Constance-bottel keer terug na sy plek van herkoms by die Groot Constantia Wynlandgoed; die terugkoms is ‘n belangrike gebeurtenis vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf en Kaapstad se kulturele erfenis in die algemeen.

Hierdie ou bottel, wat uit 1821 dateer, keer terug na sy regmatige plek, knus binne-in die Cloete Kelder by Groot Constantia waar dit bykans twee eeue gelede deur die eienaars en arbeiders geproduseer is.

Grand Constance, die Franse vertaling van Groot Constantia, het internasionale erkenning vir die uitstaande kwaliteit ontvang en daarna is uitsonderlike hoë pryse op veilings behaal  wat in baie Europese stede flink bygewoon is – keisers en konings soos Frederik de Grote van Pruise, Napoleon en Louis Phillippe (Koning van die Franse) het almal gewedywer om daarvan in die hande te kry.

Napoleon se gunsteling drankie en ‘n wyn met ‘n kleurryke verlede

Voor Napoleon se dood in 1821 het hy elke maand 30 bottels “Grand Constance” na Sint Helena-eiland laat verskeep om sy ballingskap meer draaglik te maak.

Charles Dickens skryf in ekstase oor Grand Constance in ‘Edwin Drood’; Jane Austen se karakter beveel dit aanvir die heldin, Marianne Dashwood, in ‘Sense en Sensibility’, om ‘n gebroke hart te genees; en Charles Baudelaire het in sy beroemdste digbundel, Les Fleurs du Mal, die wyn van Constantia met sy minnares se lippe vergelyk.

Constantia-bottels, bottelskerwe en bottelseëls wat van so lank terug as 1774 dateer, is al in die mees ongewone omstandighede in die verste hoeke van die wêreld gevind: Een bottel is in die laat 1940’s deur ‘n duiker op die bodem van die oseaan naby Stockholm gevind; drie bottels wat uit die periode 1760 – 1840 dateer, is in die kelder van ‘n kasteel naby België ontdek; ‘n bottelskerf waarop die Constantia-bottelseël voorkom, is op ‘n strand in Delawarebaai gevind waarna Amerikaanse geskiedkundiges bevind het dat dit deel van die skeepsvrag van die Severn, ‘n skip wat in 1774 daar gestrand het, was;  en ‘n verdere vonds was ‘n baie growwe voorbeeld van die Constantia-wynseël – dit was ooglopend veel ouer as die ander voorbeelde – wat tydens opgrawings in Meiningen in Duitsland gevind is.

“Met so ‘n merkwaardige en bekende geskiedenis van hierdie eeue-oue Suid-Afrikaanse handelsmerk is ons natuurlik opgewonde dat hierdie Grand Constance-bottel wat reeds bykans twee eeue oud is, na sy ‘geboorteplek’ terugkeer,” sê Dr. Ernest Messina, voorsitter van die Groot Constantia Trust, terwyl hy verduidelik dat Groot Constantia die suksesvolle bieër op die historiese Grand Constance-bottel gedurende die onlangse aanlynveiling was.

“As Suid-Afrika se oudste wynproduserende plaas – dit bestaan reeds vir 331 jaar – en as ‘n Nasionale Monument, is Groot Constantia en die wyne wat op die landgoed geproduseer word, van historiese belang en beide verteenwoordig die ryk Kaapse kulturele- en wynerfenis; terselfdertyd beklee Groot Constantia ‘n belangrike posisie in die wêreld wyngeskiedenis.”

Tydkapsule vang Grand Constance vir toekomstige wynliefhebbers vas

Groot Constantia het die terugkeer van die elegante ou Grand Constance-bottel tydens ‘n viering op Donderdag, 15 September, by die landgoed onthul.

Messina sê dat die opwinding wat daarmee gepaardgaan om iets wat vir 195 jaar buite bereik was, terug te hê, Groot Constantia geïnspireer het om die weg te baan vir ‘n soortgelyke geskiedkundige oomblik – 93 jaar van nou af. Die landgoed het ‘n “tydkapsule in een van die lugopeninge van die Cloete Kelder met 12 bottels van Grand Constance 2009 gevul en toegemessel”. “Hierdie tydkapsule sal op 2 Februarie 2109 oopgemaak word wanneer die Suid-Afrikaanse wynbedryf hul 450-jarige bestaan sal vier. Die wyn in die tydkapsule sal dan 100 jaar oud wees.”

Die Cloete-Kelder vervul voortdurend ‘n kernrol by Groot Constantia.  Dit was die enigste plek waar die beroemde Grand Constance-wyn ooit geproduseer is, en hierna sal die kelder selfs ‘n meer integrale rol ten opsigte van Groot Constantia se unieke, nuwe Besoekersroete wat in November bekendgestel word, vervul.

“Die helfte van die kelder sal ‘n museum huisves terwyl die ander helfte in ‘n bykomende proelokaal omskep sal word waar besoekers ‘n unieke erfeniservaring van die wyne van Groot Constantia kan meemaak”, verduidelik Messina.

Besoekers aan Groot Constantia sal die 1821-bottel  Grand Constance in die Cloete Keldermuseum kan besigtig waar dit met die nodige agting bejeën sal word. “Ek is vol vertroue dat besoekers ‘n historiese gevoel sal beleef  wanneer  hulle in die vertrek staan waar hierdie bottel 195 jaar gelede geproduseer is. Dit kan nie anders as om ‘n indruk op jou te laat nie, en boonop is dit inspirerend,” sluit Messina af.

Vir meer inligting besoek www.grootconstantia.co.za of skakel met Groot Constantia via sosiale media op Twitter, Facebook en Instagram @GrootConstantia.

Verdere navrae:

Carmen Lerm carmen@fusiondesign.co.za of Catherine Pate catherine@fusion-westcoastway.co.za