Die Stellenbosse wyn- en sportlegende Jan Boland Coetzee is op Donderdag 6 Februarie 2020 met die ikoniese 1659-erepenning vereer by die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid op die geskiedkundige Groot Constantia-wynlandgoed in Kaapstad.

Coetzee, wat aan die Weskus grootgeword het en ‘n graad in Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, se roemryke wynmaakloopbaan het in 1968 by die Kanonkop wynplaas buite Stellenbosch begin. Dié wynmaker het terselftertyd ook naam gemaak op die rugbyveld – nie net het hy die Westelike Provinsie vir destyds ‘n rekordgetal van 127 wedstryde verteenwoordig nie, maar ook ses keer as Suid-Afrikaanse Springbok uitgedraf.

Net so bekend as wat Coetzee is vir sy kundigheid van wingerd en wyn, so vernaam is sy reputasie vir die opheffing van landbouwerkers, asook die wynlandgemeenskappe. As deel van sy pioniersrol op die gebied van maatskaplike opheffing was hy in die 1970’s een van die stigterslede van die Landelike Stigting, ’n baanbrekerorganisasie wat nastreef om die woon- en werkomgewing van plaaslike mense te verbeter. Hy was een van die stigterslede van die Kaapse Wynmakersgilde en is ‘n voormalige trustee van dié gilde se ontwikkelingstrust wat veral deur hul protégé-program terugploeg in die gemeenskap.

In 1980 het Coetzee die plaas Vriesenhof teen die hange van Stellenboschberg bekom, waar hy homself steeds bevind. Wanneer hy nie wynmaak nie, geniet hy dit om te jag, vis te vang aan die Weskus saam met sy kleinkinders of om saam met vriende oor ‘n glasie wyn te kuier. ‘n Eredoktersgraad in die natuurwetenskappe in landbou is in 2018 deur die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken.

Volgens dr Ernest Messina, Voorsitter van Groot Constantia, word die 1659-erepenning reeds sedert 1974 aan persone toegeken wat diep spore in die wynbedryf getrap het. Met vanjaar se toekenning wil Groot Constantia se direksie hulle verbintenis herbevestig tot die verdere herstel van menswaardigheid; uitbou van trots in die wynbedryf; en beste praktyk aanmoedig.

“Die 1659-erepenning vir visionêre leierskap in die bedryf is ingestel om positiewe bydraes te erken en te vereer,” sê dr Messina. “Vanjaar se leier is juis so ‘n persoon. Jan Boland Coetzee lewer ‘n konstruktiewe bydrae om die wynbedryf op ‘n hoër vlak te plaas. Die bedryf is beslis beter daaraan toe met sy visie en betrokkenheid. Sy tasbare optrede om groter menswaardigheid, trots en eer aan die bedryf en al haar mense te verleen, is onmiskenbaar. Hy het mense se lewens diep geraak en spore getrap wat moeilik uitwisbaar is. Ons glo sy bydrae sal ander inspireer om sy voorbeeld te volg.”

Coetzee het in sy ontvangstoespraak gesê die wêreld se beste wyne is ten nouste verbind met die gees van die plek, die plante en die persone wat dit produseer … veral “mense met geduld, passie, noukeurigheid en ‘n vreugde om te deel”.

Gaste het ‘n fynproewersete deur Simon’s Restaurant geniet wat bedien is voor die historiese Cloete kelder, tesame met bekroonde Groot Constantia-wyne en wêreldklasvermaak verskaf deur lede van die Libertaskoor. Die Wynoesherdenkingsgeleentheid word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Groot Constantia-landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder.