SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF HULDIG PIONIERS

Vier pioniers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is Woensdag 2 Februarie 2022 tydens die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid by die geskiedkundige Groot Constantia-landgoed vereer. Die geleentheid het die geboorte van die wynbedryf in Suid-Afrika gevier, die seën op die nuwe oes gevra en baanbrekers in die bedryf gehuldig.

Individue het tydens die geleentheid in die volgende kategorieë erkenning ontvang vir hul uitsonderlike bydrae tot die wynbedryf: Visionêre Leierskap; Diversiteit en Transformasie; Wynwaardering en Wynbevordering en Wingerdbou en Wynskepping. Die seremonie word reeds sedert 1974 aangebied om diegene te vereer wat met hul sterk leiding die wynbedryf help vooruitgaan.

1659-Toekenning vir Visionêre Leierskap

Carmen Stevens, die eerste swart Suid-Afrikaner wat toegelaat is om Wynkunde te studeer, is vanjaar met die ikoniese 1659-Toekenning vir Visionêre Leierskap vereer. Die kriteria vir individue of organisasies om vir hierdie gesogte toekenning in aanmerking te kom, sluit in waarneembare pogings en inisiatiewe wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf bevoordeel het, iemand wat ’n blywende impak en nalatenskap gelaat het, en om ander in die bedryf aan te moedig en te inspireer.

Carmen het 25 jaar se ervaring as wynmaker. Nadat sy destyds weens haar velkleur verbied is om by Elsenburg in te skryf het sy vir verskillende premium wynkelders as wynmaker gewerk, voor sy Carmen Stevens Wines – die eerste 100% swart vroulike wynmakery – op Stellenbosch op die been gebring het. Carmen maak nie net verskeie bekroonde wyne nie; sy dien ook op die Wyn- en Spiritusraad en op die direksie van die Suid-Afrikaanse Transformasie-eenheid.

Carmen glo daarin om terug te ploeg in die gemeenskap, en jeugontwikkeling in die wynbedryf lê haar na aan die hart. Sy is vas oortuig vroeë bemagtigingsprogramme kan kinders in staat stel om bo hul omstandighede uit te styg. Haar organisasie sonder winsbejag het tot dusver 11 622 731 borde kos aan 41 363 leerders verskaf.

Sy is ‘n aktiewe rolspeler en ‘n gerespekteerde figuur binne die wynbedryf en dien as ‘n groot inspirasie vir talle aspirant-, opkomende en gevestigde wynmakers van oor die hele spektrum.

Erkenning vir Diversiteit en Transformasie

Denise Stubbs het die Diversiteit en Transformasie-toekenning ontvang. Die kriteria vir individue om vir hierdie toekenning te kwalifiseer, sluit in om die weg vir ander te baan deur struikelblokke uit te skakel, ’n voorbeeld te stel en ander te inspireer, by te dra tot kennis wat vir ander van waarde kan wees, en ’n positiewe bydrae tot die algehele beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te lewer. 

Denise het nog altyd daarvan gedroom om terug te gee aan haar gemeenskap en toe sy die geleentheid kry, het sy haar korporatiewe loopbaan agtergelaat en Thokozani saam met 65 plaaswerker-aandeelhouers gestig.

Denise is nou die besturende direkteur van Thokozani (wat ‘vieringe’ in Zoeloe beteken) en het ’n deurslaggewende rol in die totstandkoming van die Thokozani Groep van Maatskappye gespeel. Die maatskappy is ’n Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtigingsinisiatief (BBBEE-inisiatief) wat wyn-, konferensie-, gasvryheids- en eiendomsakebelange insluit. Thokozani voer nou na sewe verskillende lande uit. 

Denise dien op die raad van Wines of South Africa (WOSA) en het al verskeie toekennings ontvang, waaronder die International Enterprising Women-toekenning in 2019. Denise is ’n rolmodel, bedryfsleier en ’n mentor vir vele, en haar bydrae maak dit moontlik vir vroulike boere en -wynmakers om hul merk te maak. 

Erkenning vir Wynwaardering en Wynbevordering

Christine Rudman is vereer in die Wynwaardering en Wynbevordering-kategorie.

Die kriteria vir individue om vir hierdie toekenning in aanmerking te kom, sluit in sigbare bydraes tot die beeld van wyn en die verantwoordelike gebruik daarvan, en die uitbouing van die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Christine is ’n Kaapse Wynmeester – wat al twee maal deur die wynbedryf vereer is – en het meer as vier dekades se ondervinding in die bedryf. Sy het van 1977 tot 1995 as wynhandelsmerkbestuurder en daarna bemarkingsbestuurder vir Stellenbosch Farmers’ Winery gewerk. Daarna was sy die hoof van die Kaapse Wynakademie en voorsitter van die Instituut van Kaapse Wynmeesters. In 2015 is sy aangestel as tegniese direkteur van die Michelangelo –internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie, waar sy vir nege jaar die enigste Suid-Afrikaanse beoordelaar was.

Christine is ’n Kaapse Wynmeester – wat al twee maal deur die wynbedryf vereer is – en het meer as vier dekades se ondervinding in die bedryf. Sy het van 1977 tot 1995 as wynhandelsmerkbestuurder en daarna bemarkingsbestuurder vir Stellenbosch Farmers’ Winery gewerk. Daarna was sy die hoof van die Kaapse Wynakademie en voorsitter van die Instituut van Kaapse Wynmeesters. In 2015 is sy aangestel as tegniese direkteur van die Michelangelo –internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie, waar sy vir nege jaar die enigste Suid-Afrikaanse beoordelaar was.

Sy het op internasionale panele regoor Europa geproe en plaaslik het sy verskeie kompetisies beoordeel. Sy het ook sommelier-opleiding voltooi en Suid-Afrikaanse wyne internasionaal aangebied.

Onder Christine se gepubliseerde bydraes tot die bedryf is die internasionaal bekroonde jaarlikse Platter’s-wyngids, Wineland, Classic Wine, die Best Value Guide en Wine Tourism Handbook.

Erkenning vir Wingerdbou en Wynskepping
Die ontvanger van vanjaar se Wingerdbou en Wynskepping-toekenning is Francois Viljoen, wat vir die afgelope 36 jaar as wingerdboukundige praktiseer. Hy het ‘n BSc-graad in Wingerd- en Wynkunde van die Universiteit Stellenbosch en ‘n Honneursgraad in Landbouvoorligtingsdienste.

Die kriteria vir individue om vir hierdie toekenning in aanmerking te kom, sluit in die ontwikkeling van nuwe idees, tegnologieë en metodes binne die wynbedryf, die implementering en oordrag daarvan, die verandering van produsente se denkrigtings, en om Suid-Afrika se wynbedryf in die algemeen te bevoordeel.

Francois het sy loopbaan in 1986 as ’n junior wingerdboukundige voorligter in die Robertson- en  Klein Karoo-streek begin. Voor hy in Julie 2019 as bestuurder van die Gen-Z Wingerdprojek oorgeneem het, was hy vir 20 jaar die bestuurder van Vinpro se konsultasiediens waar hy ’n span wingerdboukundiges en grondwetenskaplikes gelei het.

 Francois is in 2014 deur die Robertson-wynvallei met die gesogte Pon van Zyl-trofee bekroon vir sy uitstaande bydraes tot die streek en die breër bedryf. Francois verskaf deurslaggewende wingerdbou-advies en -insig aan wynprodusente regoor die bedryf en dien op verskeie bedryfskomitees, -rade en -werksgroepe.

“Dit was ‘n eer en voorreg om erkenning te gee aan hierdie rolspelers in die bedryf, wat oor die jare ’n uitsonderlike invloed op die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitgeoefen het,” sê dr. Ernest Messina, voorsitter van Groot Constantia. “Daar word jaarliks met groot afwagting na die Wynoesherdenkingsgeleentheid op die wynkalender uitgesien – nie net omdat ons die begin van die SA wynbedryf kan vier en die nuwe oes kan seën nie, maar ook omdat ons hierdie buitengewone individue kan vereer.”

Ondersteun die SA wynbedryf

Die Wynoesherdenkingsgeleentheid is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Ninety One, Groot Constantia, Standard Bank, Vinpro en Die Burger. Die virtuele geleentheid kan op die webwerf www.sawineharvest.co.za gevolg word. Ondersteun die wynbedryf op sosiale media deur #sawineharvest2022 te gebruik.