Vier baanbrekers van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op Dinsdag 2 Februarie 2021 vereer tydens die bedryf se jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid. Die geleentheid, wat vanjaar vir die 10de keer op die geskiedkundige Groot Constantia-wynlandgoed in Kaapstad aangebied is, het virtueel plaasgevind.

Dr Ernest Messina, Voorsitter van Groot Constantia, het in sy openingstoespraak gesê herdenking beteken dat die storie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf “herleef, hersien en vernuwe” moet word. Volgens Messina moet die volle storie van die bedryf aan meer mense vertel word om onkunde aan te spreek en om te keer, asook by te dra tot ‘n meer verteenwoordigende toekoms vir die bedryf. “Op hierdie manier sal almal wat gehelp het – en steeds help om die bedryf te vorm en te bou – erken, waardeer, gehoor en gesien word.”

Groot Constantia se direksie het vanjaar as deel van die Wynoesherdenkingsgeleentheid drie nuwe toekennings ingestel om breër erkenning moontlik te maak. Hierdie toekennings dek die kategorieë Diversiteit en Transformasie, Wynwaardering en Wynbevordering, asook Wingerdbou en Wynskepping.

Visioenêre Leierskap

Die Stellenbosse wynlegende Beyers Truter, wêreldwyd bekend as die koning van Pinotage, is met die ikoniese 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap vereer. Die kriteria vir individue of organisasies om vir hierdie gesogte toekenning in aanmerking te kom, sluit in waarneembare pogings en inisiatiewe wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf bevoordeel het; ‘n blywende impak en nalatenskap; en om ander in die bedryf aan te moedig en te inspireer.

As wynmaker, wynpersoonlikheid en eienaar van Beyerskloof het Truter dít alles gedoen deur sy lewenstaak om die Suid-Afrikaanse Pinotage-variëteit internasionaal as ‘n premium rooiwyn te laat erken. Truter het in in 1979 ‘n graad in BSc Landbou met wynkunde en wingerdbou aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Op 25-jarige ouderdom word hy die wynmaker by Kanonkop, en vestig hy die handelsmerk wêreldwyd met talle toekennings, waaronder die uiters gesogte Chateau Pichon Longueville Comtesse de Lalande-trofee vir die wêreld se beste rooi versnit met sy ikoniese Paul Sauer 1991 Bordeaux-versnit. Hy wen ook die Robert Mondavi-trofee by die Internasionale Wyn- en Spirituskompetisie in 1991 vir die beste wynmaker ter wêreld. Truter is ook die stigter en voorsitter van die Pinotage-vereniging.

As ‘n ware wynlegende wat Pinotage op die wêreldkaart geplaas het, is Truter ‘n gepaste ontvanger van die 1659-toekenning vir visioenêre leierskap. Die vorige wenners sedert die geleentheid te Groot Constantia aangebied word, is Jan Boland Coetzee, prof Piet Goussard, die Onbesonge Wynwerkers, Charles Back, Danie de Wet, Norma Ratcliffe, Jan Scannell, Dave Hughes en Spatz Sperling.

Diversiteit en Transformasie

Die bekroonde Stellenbosse pionier-wynmaker Ntsiki Biyela het die Diversiteit en Transformasie-toekenning ontvang. Die kriteria vir hierdie toekenning sluit in om die weg te baan vir ander deur die uitskakeling van hindernisse; ‘n voorbeeld te stel en ander te inspireer; by te dra tot kennis wat ander kan gebruik en algeheel die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te beïnvloed.

Biyela het in Mahlabathini in Kwazulu-Natal grootgeword. Ná Matriek het sy as huishulp gewerk voordat sy ‘n beurs ontvang het om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, waar sy in 2003 ‘n BSc in Landbou (Wingerd- en Wynkunde) behaal het. Ná 13 jaar as wynmaker by Stellekaya-wyne het sy Aslina Wines begin. Biyela het ook in Bordeaux gewerk en is genooi om ‘n wyn vir die Winemakers Collection te maak – iets wat slegs ‘n handjievol wynmakers van regoor die wêreld beskore is. Sy is bekroon as Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar in 2009 en as een van Fortune Magazine se Top 20 mees innoverende vroue in voedsel en drank in 2017. Haar wyne spog met goue medaljes van die Michelangelo Wyn- en spiritualieë-toekennings, asook goud van die Sakura-toekennings in Japan. Biyela is ook ‘n hoog aangeskrewe wynbeoordelaar en bestuurslid van die Pinotage Jeugontwikkelingsakademie.  

Wynwaardering en Wynbevordering

Die bekende wynkenner Michael Fridjhon van Johannesburg is as die wenner van die Wynwaardering en Wynbevordering-toekenning aangewys. Die kriteria vir hierdie toekenning sluit in merkbare bydraes tot die beeld van wyn en die verantwoordelike gebruik daarvan, sowel as die uitbou van die beeld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf as geheel deur middel van ‘n wye invloedsfeer.

Fridjhon het meer as vier dekades ervaring in die bedryf en is een van Suid-Afrika se mees hoog aangeskrewe internasionale wynbeoordelaars. Hy is ook een van die land se voorste wynskrywers, betrokke by meer as 40 wynboeke, en bekend vir die Wine Wizard-webwerf. Fridjhon is die voorsitter van die Old Mutual Trophy Wine Show sedert 2002 en van die Old Mutual Trophy Spirits Show sedert 2019. Hy was die eerste internasionale mede-voorsitter van die International Wine Challenge en is ‘n voormalige voorsitter van die Six Nations Challenge. Hy is besoekende professor in Wynbesigheid aan die Universiteit van Kaapstad waar hy ook aan die hoof staan van die Wynbeoordelingsakademie. Fridjhon is in 2012 aangewys as die Louis Roederer Internasionale Wynrubriekskrywer van die Jaar, een van sy vele eerbewyse.  

Wingerdbou en Wynskepping

Die Stellenbosser Johan Reyneke, pionier van organiese en biodinamiese wynboerdery in Suid-Afrika, is met die Wingerdbou en Wynskepping- toekenning vereer. Die kriteria vir hierdie toekenning sluit in die ontwikkeling van nuwe idees, tegnologieë en metodes binne die wynbedryf, die implementering en oordrag daarvan, en om denkrigtings te verander, tot voordeel van die wynbedryf in die algemeen.

Reyneke was ‘n nagraadse student in omgewingsetiek aan die Universiteit Stellenbosch toe hy die boerdery op die familieplaas Uitzicht in die Polkadraai-heuwels by sy ma oorgeneem het. Sy ervaring in die wingerd tesame met die insigte wat hy tydens sy studies opgedoen het, het daartoe gelei dat hy op ‘n meer omgewingsvriendelike manier begin boer het. Hy het die plaas in 2000 na organies oorgeskakel en gevestig as een van die eerste internasionaal gesertifiseerde organiese en biodinamiese wingerde in Suid-Afrika. Reyneke Wyne was een van die eerste organiese wynkelders in Suid-Afrika wat ‘n vyfster-gradering in Platter’s Wine Guide ontvang het. In 2020 het die Britse wynskrywer Tim Atkin in sy verslag oor Suid-Afrika vir Reyneke as Kweker van die Jaar aangewys.

Oop vir almal

Die Wynoesherdenkingsgeleentheid is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning en vennootskappe van Groot Constantia Landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS at SPAR Wine Show. Die virtuele geleentheid is steeds op die webwerf www.sawineharvest.co.za beskikbaar en is oop vir almal. Die program sluit optredes deur die internasionaal bekroonde operasangers en susters Pretty Yende en Nombulelo Yende in. Vir enige navrae, kontak Razelle Galant by razelle@agriexpo.co.za of 021 975 4440.

Sosiale media

Gesels saam op sosiale media met #sawineharvest2021

Facebook: @beyerskloof @beyers.truter

Twitter: @beyerskloof @BeyersTruter

Instagram: @beyerskloof

 

Facebook: @AslinaWines @ntsiki.biyela1

Twitter:  @AslinaWines @Ntsiki_Biyela

Instagram:  @aslina_wines @nbiyela

 

Facebook: @WineWizardSA

Twitter: @michaelfridjhon

Instagram: @winewizardsa

 

Facebook: @ReynekeWines @johan.reyneke.100

Twitter: @ReynekeWines @ZAVineHugger

Instagram: @ReynekeWines

Groepfoto: Van links is Reghardt Strauss (Standard Bank Hoof van Landboubesigheid: Wes-Kaap), Ntsiki Biyela (ontvanger van die Diversiteit en Transformasie-toekenning), Andrew Douglas (TOPS at SPAR Wine Show), Beyers Truter (ontvanger van die 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap), Rico Basson (Besturende Direkteur van Vinpro), Michael Fridjhon (ontvanger van die Wynwaardering en Wynbevordering-toekenning), Suzaan Potgieter (Redakteur van Die Burger Versnit), Johan Reyneke (ontvanger van die Wingerdbou en Wynskepping- toekenning) en dr Ernest Messina (Voorsitter van Groot Constantia).

Beyers Truter, ontvanger van die 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap.

Ntsiki Biyela, ontvanger van die Diversiteit en Transformasie-toekenning.

Michael Fridjhon, ontvanger van die Wynwaardering en Wynbevordering-toekenning.

Johan Reyneke, ontvanger van die Wingerdbou en Wynskepping- toekenning.

 

UITGEREIK DEUR

Isabeau Botha

Korporatiewe Kommunikasiebestuurder
Agri-Expo
isabeau@agriexpo.co.za
021 975 4440
072 247 5868
www.agriexpo.co.za